PENGUINPOST29 - Flipbook - Page 20
AFRIKA ANS
Hoe
woorde
beweeg
Soms meld ’n storie aan as
idee, insident of selfs karakter.
Ander kere is daar ’n toneel of
gebeurtenis wat die bal aan
die rol sit. Pieter Stoffberg
vertel hoe Die beweging van
bloed vir hom begin het.
D
ie konsep vir Die beweging van bloed is
in één sessie neergeskryf. ’n Enkele
bladsy wat my oorweldig het. Die
ongenaakbaarheid daarvan, die skrikwekkende
binneblik in die psige van ’n mens wat miskien
ek of jy kan wees.
Ek is ’n intuïtiewe skrywer en word
dikwels verbaas – partykeer selfs geskok – oor
vreemde dinge wat my karakters doen. Dan
neem die boek sy eie loop. Dis iets waarmee ek
nie ’n probleem het nie, want is dit nie hoe die
lewe is nie? Die onverwagte gebeur en in ’n
oomblik keer jou lewe om en dan gaan dit aan
op ’n ander koers, en moet jy noodgedwonge
nuwe planne maak.
Van al my boeke is hierdie die eerste keer
waar ek vooraf geweet het wat die storie is. Of
so het ek gedink. Dit is nét te kompleks – op
sielkundige, geestelike en narratiewe vlak –
om binne bestek van een poging uit te sorteer.
Baie leservriende en mense wat baie meer
kundigheid het oor die skryfkuns, onderwerpe
soos prostitusie, verslawing en trauma, het
my gehelp. Die meestersgraad in kreatiewe
skryfkuns wat ek onlangs by Kovsies voltooi
18
THE PENGUIN POST MARCH/APRIL 2024
Die beweging
van bloed is nou
beskikbaar.
het en die ervaring opgedoen in die redigering
van my vorige roman, Tenk, was vir my
deurslaggewend om die manuskrip af te rond.
Hierdie boek kom ’n baie lang pad en op
een of ander stadium het Kies, Oop wond,
Beweging van bloed en Die einde van ’n perfekte
dag as titel aangemeld. Elkeen van hierdie
moontlikhede probeer om een van die
sigvlakke van die storie te belig.
Aan die een kant is daar professor Nino
Everhard. Hy kan nie onthou wat op daardie
dag gebeur het nie, daarom kan hy nie die hele
prentjie sien nie. Om sy gebrek aan insig met
die lesers te deel, word die verhaal gedra deur
’n eerstepersoonsverteller. Ons weet net wat
Nino weet. Hy het keuses om te maak en moet
die gevolge daarvan dra – van nuwe én ou
besluite. Uiteindelik moet hy, soos ons almal,
besluit waaraan hy bo alles lojaal wil wees en
uitvind waar sy morele kompas regtig lê, al is
dit nie altyd ’n mooi prentjie nie.
Aan die ander kant is dit die aksie wat
voortspruit uit gevaar, die avonture van die lewe
wat lóóp op adrenalien of testosteroon. En nee,
ek dink beslis dis ’n boek nie net vir mans nie.